Dwaalstories | Short Stories & Fiction Anthologies
Eugène N. Marais
Eugène Marais was een van die eerste Afrikaanse skrywers wat inheemse verhale in die oorspronklike Boesman-Afrikaanse dialek neergepen het. Sy vier “Dwaalstories” is in 1921 in Die Boerevrou, en in 1927 deur Nasionale Pers in ’n bundel gepubliseer.
In sy voorwoord skryf Marais dat hy hierdie dwaalstories by “’n ou Boesman, outa Hendrik” gehoor het, en dat hy “wil probeer” om dit weer te gee. En hy sê: “Al die stories het ten minste die suggestie bevat van ’n reeks verhaalagtige gebeurtenisse – net so ’n suggestie as wat nodig is om die lewendige verbeelding van ’n kind kragtig te roer. Iemand wat belang stel in die sielkunde van die kind, sal gou besef waar die aantrekkingskrag van die storie sit.”
Die sjarme en bekoring van hierdie eenvoudige ou stories is tydloos. Met die pragtige lyntekeninge van die bekende kunstenaar Katrine Harries daarby, is hierdie ’n baie spesiale boek – ook as geskenk.